Funksionele Fase

Skool Fases Funksionele Fase

Leerders wat serebraal, fisies sowel as intellektueel gestremd is, word tot die Funksionele Fase toegelaat.

Kurrikulum:

’n Aangepaste CAPS-kurrikulum, genaamd D-CAPS (Differensiële Kurrikulum- en Assesseringbeleidsverklaring), word tans in hierdie fase gebruik om aan leerders se spesifieke behoeftes te voldoen.

Van die ouderdom van 8 – 13 jaar doen hulle akademiese vakke genaamd Wiskunde, Huistaal en Lewensvaardighede. Van 14 – 18 jaar (dit is ons Werkvoorbereiding Fase) gaan ons voort met die genoemde vakke, maar dan word die keusevakke wat ons by Paarl-skool aanbied, bygevoeg. Die drie keusevakke is Landbou, Aanvullende Gesondheidsorg sowel as Kuns en Handwerk. Verder het die leerders Addisionele Taal, Natuurwetenskappe en Skeppende Kunste as vakke.

Aanvullende Gesondheidsorg gaan daaroor om leerders te bemagtig om veilig na hulself om te sien, veral om leerders in rolstoele te help met voedselvoorbereiding, huisskoonmaak met behulp van skoonmaaktoerusting en -produkte. Klem word geplaas op persoonlike higiëne.

In Landbou word leerders blootgestel aan basiese plantversorging, plantproduksie en die instandhouding van 'n pragtige tuin, terwyl hulle kennis van diereversorging, omgewingspraktyke, algemene boerdery, tuinbou en fundamentele sakebeginsels binne die landbouveld ontwikkel.

Die Kuns en Handwerk-leerprogram ondersoek kennis en begrip van 'n verskeidenheid materiale, tegnieke en werkprosesse, van die ontwikkeling van idees en die oplos van probleme tot die produksie van kreatiewe kunswerke. Kuns en Handwerk wakker die kreatiewe kragte in elke leerder aan. Hierdie kreatiwiteit kan in alle sfere in latere lewe en werk toegepas word.

'n Arbeidsterapeut bied hulp met daaglikse aktiwiteite.

Rekenaaropleiding en TIPS (Terapeutiese Intervensieprogram in Skole) word ook aan die leerders voorsien.

Klasgroepe:

Daar is elf (11) klasgroepe met ouderdomme wat wissel tussen 7 en 18 jaar.

Leerders in die Funksionele Fase benodig baie individuele hulp en daarom het elke opvoeder 'n klasassistent. Baie leerders het fasiliteerders, wat deur hul ouers vergoed word, om hulp te verleen aan meer gestremde leerders.

Die meeste leerders in die Funksionele Fase ontvang fisioterapie.

Leerders in die Werksvoorbereiding Fase word voorberei vir die Wêreld van Werk. Aan die einde van hul skoolopleiding word leerders ondersteun met toekomsbeplanning en aansoeke vir werk in 'n beskermde / beskutte of oop arbeidsmark. 'n Arbeidsterapeut is betrokke by die vind van geskikte poste in die arbeidsmark, skakeling met besighede en die plasing van leerders. Hiervoor benodig ons die bereidwilligheid van sakeondernemings om leerders van gepaste geleenthede te voorsien. Dit is baie belangrik dat die ouers van hierdie leerders ook by die hele proses betrokke is.