Op 18 Julie 1978 is die eerste leerders by Paarl-skool toegelaat.
Dit was die verwesenliking van ’n droom van die Nederduitse Gereformeerde Kerk rakende die versorging van serebraal gestremde leerders, wat reeds in 1957 begin het. ’n Huis in Paarl, sowel as 8,5 hektaar grond buite Paarl, is gedurende die 1960’s aan die “Paarlse Komitee vir Serebraal Gestremdes”, ’n subkomitee van die Kerk se Maatskaplike Dienste Komitee, geskenk.
Na jare se oorweging met die Departement van Nasionale Opvoeding, is die stigting van ’n skool vir serebraal gestremde leerders goedgekeur. Daar was egter sekere ooreenkomste wat bepaal het dat die skool nader aan ’n stedelike gebied moes wees, sodat gespesialiseerde personeel gewerf kon word, asook naby ’n goed toegeruste hospitaal – in hierdie geval die Tygerberg-hospitaal.
In 1972 is grond in Brackenfell aangekoop vir die oprigting van die skool, en in Julie 1978 het Paarl Skool sy deure geopen. Aangesien die inisiatief en jare lange strewe om so ’n skool tot stand te bring uit persone in Paarl gekom het, is besluit om die skool Paarl Skool te noem.
Die skool was oorspronklik beplan vir 165 leerders, en die koshuis kon tot 42 leerders akkommodeer. Tans kan die skool ’n maksimum van 350 leerders akkommodeer.
- Mnr. Ellis R. Barker (18 Julie 1978 tot Desember 1995)
- Mnr. Johan Basson (Julie 1996 tot Desember 2013)
- Mnr. Stoffel Kruger (Januarie 2014 tot Maart 2023)
- Mev. Annaline Norman (Julie 2023 to op hede)
Ons is bly
Ons is bly
daar's 'n skool in Brackenfell wat ons op die pad
van grootword lei.
Ons kan leer, ons kan leef,
ons kan groei en ons kan glo
met ons voet op aard' en oog na bo.
Ja, nog kosbaarder as al die pêrels
is wat die Paarl-skool vir kinders doen.
Ons wat glo en weet van EEN wat liefde is
wil mekaar in liefde dra.
Ons wat glo en weet van EEN wat liefde is
wil mekaar in liefde dra.
Die veldgedeelte van die skild word gevorm deur wit en swart vertikale balke wat die skemerwêreld aandui waarin die serebraal- en leergestremde leerders hulself aanvanklik bevind.
In hierdie omstandighede kom daar vir hulle lig deur onderwys, wat voorgestel word deur 'n ingeboë punt wat na bo oopgaan en waarop 'n oop rooi roos geplaas is.
Die teenstelling in kleure maak dit 'n treffende wapen. Die spreuk, "Fide et Amore", wat beteken, "deur geloof en liefde", dui op die benadering van die skool tot die leerders.


