Afrikaans | English

Wat ons aanbied | Busse en Koshuis

Vervoer

Die busbestuurders bestaan uit enkele van die skool se personeel, ouers en persone uit die gemeenskap. Leerders wat nie op busroetes is nie, kan in die skool se koshuis geakkommodeer word.

Busroetes sluit die volgende areas in:

Bellville Kraaifontein Stellenbosch
Bothasig Kuilsrivier Strand
Brackenfell Monte Vista Welgemoed
Durbanville Paarl Wellington
Eversdal Parow
Goodwood Somerset-Wes

Sestien bussies vervoer daagliks ongeveer 210 leerders na en van die skool. Dit is hoofsaaklik die Noordelike voorstede van die Kaap wat gedek word.

Akkommodasie

Paarl-skool beskik oor ‘n seuns- en dogterskoshuis waar hoofsaaklik leerders, wat nie op ‘n busroete woon nie, versorg word tydens die week. Die koshuis is naweke gesluit.

In ‘n gestruktureerde omgewing word die leerders ondersteun deur onderwyspersoneel en terapeute. Hul spesifieke en individuele skolastiese uitvalle word aangespreek. Daar word ook, tydens spesifieke studietye, geleentheid geskep om navorsing in die skool se mediasentrum te doen en om projekte op die rekenaar te voltooi.

‘n Versorgende en ondersteunende koshuispersoneel, bestaande uit opvoeders, huismoeders en algemene assistente, sien om na die leerders se fisiese- en emosionele welstand. Drie gebalanseerde maaltye word daagliks voorgesit. Toebroodjies word verder gedurende pouse en voor slaaptyd voorsien. Die koshuis is ook ingerig met ‘n wassery. Die koshuis beskik verder oor sy eie ontspanningslokale – ‘n televisiekamer en speletjieskamer waar tieners o.a. snoeker kan speel en musiek kan luister.

Gedurende die somermaande kan leerders in die skool se groot swembad baljaar of op die speelapparaat of grasperke van hul oortollige energie ontslae raak. Rolstoele kan gemaklik op die talle geteerde areas rondbeweeg. Die Paarl-skool Koshuis voldoen aan al die vereistes vir die spesifieke versorging van serebraal- en fisies gestremdes.

Voorskoolse- tot Gr.9-leerders vind ‘n liefdevolle tuiste in die Paarl-skool Koshuis. Samesyn tussen leerders buite die klaskamer, bied die ideale geleentheid tot karakter- en selfbeeldvorming.