Leerprobleme en leeragterstande beïnvloed die kind in sy totale menswees en veroorsaak ‘n gebrek aan selfvertroue en ‘n lae selfbeeld. Leerondersteuning bied aan dié leerders die geleentheid om tot hulle volle potensiaal te ontwikkel deur hulle op skolastiese vlak te ondersteun en agterstande in te haal.
By Paarl-Skool sluit dit die volgende dienste in:
Assessering
Die leerondersteuner vorm deel van die evaluasiespan en werk in spanverband saam met die ander dissiplines ten einde die leerder se spesifieke probleme te identifiseer. Daar word bepaal watter leerdoelwitte reeds bereik is en effektiewe hulpverlening word beplan ten einde die leerder in staat te stel om spesifieke leerdoelwitte volgens sy unieke leerstyl te bereik.
TIPS
Hulp word in groepsverband aan klasgroepe verleen. Daar word gefokus op die ontwikkeling van taal-, lees- en skryfvaardighede en skolastiese probleme wat algemeen by die integrasie van gesproke en geskrewe taal voorkom.
Ouditiewe Hulp
Die leerinhoud van die verskillende leerareas word op CD of band aangebied om leerders wat ernstige leesprobleme ondervind, te ondersteun.
Amanuense
Transkribering word gedurende skriftelike take aangebied aan leerders wat probleme ondervind met lees, die skriftelike weergawe van taal of ernstige skryf- en spellingprobleme het.
Remediërende Onderrig
Leerders wat deur faktore óf binne hulself óf omgewingsfaktore ‘n agterstand in skolastiese vaardighede ondervind, kwalifiseer vir remediërende onderrig. Waar leerders unieke benaderings vereis, word hulle individueel gesien. Waar leerders ooreenkomstige probleme met dieselfde vaardigheid ondervind, bv. taal, lees, spelling of syferkundigheid word dit in groepsverband aangespreek.
Studiemetodes
Leerders word gehelp om volgens hulle eie leerstyle metodes aan te leer om inligting wat verwerf is suksesvol weer te gee.