GESKIEDKUNDIGE AGTERGROND  |   HOOFDE TOT HEDE  |   SKOOLLIED



Die skool het op 18 Julie 1978 vir die eerste maal leerlinge toegelaat.

Dit was die vervulling van 'n lang gekoesterde ideaal. Die eerste beskikbare notule van 'n vergadering van die Komitee vir die Versorging van Serebraal-Kreupel Kinders , Paarl-tak, staan opgeteken onder die datum 24 Maart 1957 . Gedurende 1962 word deur die Sinodale Kommissie vir die Diens van Barmhartigheid van die Nederduitse Gereformeerde Kerk, waarvan dr. P. du Toit destyds die sekretaris was, aanvaar dat daar 'n behoefte vir die versorging van serebraal verlamdes bestaan. 'n Komitee op breër grondslag is saamgestel en op 27 Oktober 1962 vergader die Paarlse Komitee vir Serebraal Verlamdes vir die eerste maal as 'n onderkomitee van die Diens van Barmhartigheid.

Intussen is 'n huis in Versterstraat, Paarl, sowel as 8,5 hektaar grond buite Paarl aan die komitee geskenk. 'n Plaaslike komitee nl. die Paarlse Bestuurskomitee vir Serebraal Verlamdes onder voorsitterskap van dr. J. J. Sieberhagen is ook benoem en nou het fondsinsameling en onderhandelinge met die Departement van Nasionale Opvoeding in alle erns begin.

Uiteindelik in 1972 , onder voorsitterskap van Dr. G.F.K. Carstens is grond te Brackenfell aangekoop vir die bou van 'n skool. Dit is op aanbeveling van die Departement van Nasionale Opvoeding gedoen aangesien 'n skool soos hierdie naby 'n ten volle toegeruste hospitaal moet wees. In hierdie geval Tygerberg Hospitaal. Nabyheid aan 'n stedelike gebied is ook belangrik vir die werwing van gespesialiseerde personeel.

Aangesien persone in die Paarl die inisiatief geneem het en hul vir baie jare beywer het vir die daarstelling van so 'n skool, is uit erkentlikheid besluit dat Paarl in die naam van die skool opgeneem word. Vandaar dus die naam Paarl-Skool , alhoewel die skool ongeveer halfpad tussen Paarl en Kaapstad, nl. te Brackenfell, geleë is.

Die skool is beplan vir 165 leerlinge met uitbreidings-moontlikhede. Die koshuis maak voorsiening vir 'n totaal van 42 leerlinge, nl. 12 dogters en 30 seuns. Die hele kompleks het R2 miljoen gekos en is met behulp van 'n staatslening gebou. Tans kan die skool 'n maksimum van 350 leerders akkommodeer.
 

Dr. G.F.K. Carstens

Mnr Ellis R. Barker
18 Julie 1978 tot Desember 1995
     
Mnr Johan M. Basson
Julie 1996 tot hede



Ons is bly
Ons is bly
Daar's 'n skool in Brackenfell wat ons op die pad van grootword lei.
Ons kan leer, ons kan leef, ons kan groei en ons kan glo
Met ons voet op aard' en ons oog na bo.
Ja, nog kosbaarder as al die pêrels is
Wat die Paarl-Skool vir kinders doen.
Ons wat glo en weet van Eén wat liefde is
Wil mekaar in liefde dra.
Ons wat glo en weet van Eén wat liefde is
Wil mekaar in liefde dra.